|
Oom Otley vertel my dié
staaltjie oor hulle wildtuintoer:
As jou water na drol stink en jy
sien nie een dryf nie, moet jy
selfinspeksie doen en seker maak
jy is nie dalk self die drol wat
almal se water gatterig laat
smaak nie.
Sommer met die intrapslag hou ek
niks van die Ingelsman wat my
kleindogter hier by ons kom
aansleep nie. Vir weke al sien
ons uit na haar kuiertjie uit
London en aan die begin kon ons
nie fout sien, dat sy nou haar
Ingelse boyfriendjie wou
saamnooi op ‘n onvergeetlike
toer saam met Oupa en Ouma deur
die Kruger Wildtuin nie.
Uiterlik nie ‘n onaangename seun
nie, maar toe die bleeksiel sy
bek oopmaak en my met “Hello
Gramps” groet, is my moer klaar
suur. Sulke voorbarige
vermetelheid. Met die pap
handjie waarmee hy bladskud,
skud ek hom amper uit sy oorbel
en hy het reeds een verloor.
Maar opgedress vir die okkasie
hoor. Leerstewels wat amper tot
by sy knieë kom, sy khakibroek
al die pad ingedruk. Met sy dik
belt se gespe sal mens ‘n
olifant met twee houe kan
doodslaan. Wat die man als
gelees het oor Suid-Afrika weet
ek nie, maar aan die belt is ‘n
waterbottel, ‘n mes wat amper sy
stewels raak, ‘n moonbag met ‘n
rooi kruis op en een van daai
kanariegeel selfone met die baie
knoppies. Die man dra ‘n swart
t-shirt wat sê rook is verbode
en iets van die aardbol wat warm
word. Maar ek weet, die Wildtuin
is nie speletjies oor Desember
nie. Warm gaan die man beslis
warm kry en rook gaan ek beslis
rook, al het Kleinpop my agteraf
gewaarsku dat die man so bietjie
opgewonde oor tabakgebruik kan
raak.
Die man is goed in tale ook. Al
drie Afrikaanse woorde by
Kleinpop geleer. ‘Dankie, kak en
lekka.’ Alles is kak of lekka.
Kleinpop is lekka. Ons paaie is
kak. Die son is kak. Ouma se
koeksisters is lekka. Vreeslik
puntenerig oor kos ook, die
mannetjie. Eet nie vleis nie,
eet nie dit nie, eet nie dat nie,
daai moet eers gekook word voor
hy sal drink ens, ens.
Ek kon dit nog vat toe die man
iets van “kak SUV” sê toe hy in
die kombi klim, maar toe die man
“kak music” op my Klipwerf
mompel, steek ek summier my pyp
op. Sommer so in die ry, soos ek
altyd maak. Kleinpop probeer nog
verbouereerd keer, maar Oupa
leer die man nog bietjie
Afrikaans:
“Fok jou, in my van rook ek,
broer.”
Die man leer vinnig en maak sy
eie Afrikaanse kombinasies:
“Fok, this rook is lekka kak,
dankie.”
Maar met ‘n man wat nie vleis
eet nie, gaan dit maar lekka kak
in die wildtuin. Teen dag drie
is die man se slaaiblare wat hy
in Phalaborwa se Spar gekoop het
al heel vrot. Sy dieet bestaan
uit Ouma se padkoskoekisters,
Nik-Naks en braaivleispap sonder
sous. Teen aand vier is hy
honger genoeg om sy vegetariese
geloof te verloën. Natuurlik nie
openlik nie. Vang ek vir
Kleinpop uit, toe sy ongemerk ‘n
tjop of drie na die man se
tentjie toe smokkel.
Dag vyf ruik ons al vroegoggend
vegetariese maagreaksies op
vleis. Net mooi in die middel
van nêrens en op die dag se
hitte kom klop die man op my
skouer hier voor in die kombi,
so in die ry.
“I MUST go!” beduie die man na
sy poephol asof ek nie lankal
kon ruik wat hy wil doen nie.
Ek stop maar die kombi naby ‘n
laagte boompies. Dit is in
elkgeval so warm, geen dier sal
dit in die omgewing waag nie.
“There,” beduie ek hom na die
boompies.
“No ways!” protesteer die
mannetjie toe.
Ek beduie vir die mannetjie in
my beste Engels dat daar “no
ways” is dat hy verder my kombi
se binnelug met sy buikwinde
gaan ontsier. As hy nie nou sy
ding gaan doen nie, gaan hy
verder stap.
“Gee vir die man kakpapier,”
beveel ek vir Kleinpop.
Die man weet nou al genoeg van
Afrikaans om te smeek “No, I
want nice paper please!”
Soos iemand wat oor duwweltjies
stap, benader die Ingelsman sy
natuurtoilet. Na ‘n rukkie
verdwyn hy agter die boompies.
Ons kyk maar almal versigtig in
die omgewing om die man darem
betyds te waarsku, sou daar dalk
ongediertes nader sluip.
Nou een ding van die Wildtuin.
As een kar stop, stop almal
agter hom om te kyk watse diere
kyk die voorste kar. Veral so op
die middaghitte as daar min is
om te sien. Die Ingelsman het
skaars gehurk, voor die Land
Rover agter ons stop. Die
gesinnetjie bespied die rigting
wat ons kyk. Hulle wil ook sien
wat ons sien. Verkykers word
uitgehaal. Nog voertuie stop.
Een ou klim uit met ‘n groot
kamera op ‘n driepoot. Nog karre
stop. Na vyf minute lyk dit soos
die Dakar Rally wat wil afskop.
Groepies brawes staan teen die
reëls orals buite hul karre en
kyk met lang lense. Party klim
bo-op hul voertuie se dakke vir
‘n beter uitsig. Wild was
besonders skaars hierdie jaar.
Nou of daar werklik een was,
weet ek nie, miskien was dit ‘n
oorywerige verbeelding in ‘n
desperate soeke na diere. Maar
toe die ou so ses karre van ons
af skree “Leeu, ek sien hom!”
weet ek die Ingelsman verstaan
meer Afrikaans as wat ons gedink
het. Met al die mense wat so
staan en kyk na die veld agter
hom, kry die kreet nog
eerbaarheid ook.
Soos ‘n lus foksterriër wat
hitte geruik het, peul die man
uit sy bostoilet uit en hardloop
vir die kombi. Die broek om die
enkels laat die man so paar keer
pens en pootjies neerslaan, maar
sy herstel is elke keer
merkwaardig. Sy roete na die
eindpaal is een stofbol soos die
man beweeg. By die kombi
aangekom is die man se broek
darem min of meer heuphoogte,
maar in die veld lê ‘n lang mes
en ‘n kanariegeel selfoon. Die
Ingelsman soek dit klaarblyklik
nie terug nie. Die konvooi karre
agter ons, ry stadig verby,
terwyl die Ingelsman sy broek en
asem op die regte plekke kry. Te
oordeel aan die hoeters en
gesigte het die mense waarde vir
geld in die wildtuin gekry.
Na die vakansie is Kleinpop heel
uit haar Ingelsman uit. Dié het
sommer vroeg ‘n vlug London toe
gevat. Sy wil hom nie weer sien
nie. Miskien was dit die
nagedagte aan die ongebruikte
toiletpapier. Miskien was dit
die klein, bleek, swaaiende
voorgedagte. |